Ek is die bokkie wat
knak onder die jagter se boog
Ek is die lam wat
weerkaats in ‘n arend se oog
Ek is die mossel wat
knars in die seemeeu se bek
Ek is die hond wat
saan en blaf by die hek
Daar’s ‘n geklop aan
my deur
Dit is jou asem
Ek hoor jou kneukels
verkondig
Jy’t gekom vir my
Ek sit onseker en wag
Ek hoor my asem
Klink soos die see in
die nag
Minute tik verby
Daar’s ‘n geruk aan my
deur
Dit is jou asem
Ek hoor die hout wat
versplinter
Jy’t gekom vir my
Ek staan gespanne en
wag
Ek hoor my asem
Fluit soos ‘n trein in
die nag
Sekondes tik verby
BANG
Ek’s
bang vir my kop wat die werklikheid laat kraak
Ek’s
bang vir gedagtes wat my hemel hel kan
maak
Ek’s
bang vir die egte, bang vir die skyn
Bang
ek hou begrafnis en die opkoms is klein
Ek
maak of ek OK is maar eintlik is ek bang
Elke
dag hoor ek dit op die radio
Die
aarde word te warm en die ys word lou
Dan
word my oë so groot soos pierings in my kop
Ek
lê net op my bedjie en my een been skop
Ek
loop nou in die straat af, almal kyk vir my
Ek
dink ek moes maar liewer in my bedjie bly
Oral
is daar mense wat my wil beroof
Ek
kla by die regering, hulle’s horende doof
Dis
amper soos ‘n siekte, diékonstante vrees
Hoe
kan ek myself
van hierdie kwaal genees?
Ek
voel hoe word die strop al nouer om my nek
Ek
sal moet emigreer, anders word ek gek
waar
vlug ek heen van die monsters in my kop?
waan’toe
kan ek beur
om te breek uit hierdie dop?
het
randeiers ook ‘n plek in hierdie nes
of
word hul uigestoot, verwerp deur die res?
die
saal is groot, die audience is klein
die
man op die verhoog vervaag en verdwyn
en
daar bly net ‘n skim van dinge wat kon wees
‘n
half-vergete liefde, ‘n half-gevierde fees
weg
is die monsters, weg is die bang
net
die geur van frangipani wat om ons hang…
Die enigste see
Lank het ek gewroeg,
lank het ek gedwaal
Gehoop om die toekoms
in te haal
Maar ‘n kop vol
verlede is nie genoeg nie
Die pad het ek geloop,
die afdraaipaadjies ook
Gesien hoe drome by
jou kan spook
Besef my hart is nog
lank nie geploeg nie
Maar die stad neem my
en die stad wys my waaroor dit gaan
Die enigste see is ‘n
see van gesigte
Die enigste oerwoud is
‘n oerwoud van beton
Die enigste berg is ‘n
berg vol beloftes
Die enigste lig is die
lig wat kom
Maar lank het ek
gewroeg, lank het ek gedwaal
Gehoop om die toekoms
in te haal
Maar ‘n kop vol
verlede is nie genoeg nie
Die pad het ek geloop,
die afdraaipaadjies ook
Gesien hoe drome by
jou kan spook
Besef my hart is nog
lank nie geploeg nie
Maar die stad neem my
en die stad wys my waaroor dit gaan
Die enigste see is ‘n
see van gesigte
Die enigste oerwoud is
‘n oerwoud van beton
Die enigste berg is ‘n
berg vol beloftes
Die enigste lig is die
lig wat kom
Die enigste maan is
die flikker van ‘n straatlamp
Die enigste ster is
die sterre in my oë
Die enigste wind is
die winde van verandering
Die enigste rots is my
ongeloof
Dink ek aan jou
As die donderwolke
opsteek
Dan dink ek aan jou
As die bliksemstrale
losbreek
Dan dink ek aan jou
As die motreën buite
neersif
Dan dink ek aan jou
As die Kaapse strande
leeg is
Dink ek aan jou
En as dit lig word
diep in die nag
En as die son breek –
helder die slag
Dink ek aan jou
As die vlamme in my
opsteek
Dan dink ek aan jou
As die liefde in my
losbreek
Dink ek aan jou
En as ons skater, soos
kinders baljaar
En as ons later ons
liefde verklaar
Dink ek aan jou
Ek sit alleen
Ek sit alleen en kyk
na die see
Die strand is verlate
en ek dink
As jy nou hier was het
ons nou sandkasteel gebou
Ons asems opgehou
En gekeer dat die
water ons mure breek
Die sonlig val soos
reën op die water en maak ‘n ligkol
war walvisse speel
Ek wil ook deel wees
van hierdie spel
En saam met jou deur
die dieptes gly
Jy sê jy het my lief
in elke liewe brief
Maar hier binne my bly
ek wonder wat word van die liefde
Kan ontmoetings jare duur?
Jy sê jy wag vir my
maar die maande gaan verby
En hier binne my bly
ek wonder
Wat word van die
liefde
Kan ‘n afskeid jare duur?
Ek sit alleen en kyk
na die maan
Die stad is verlate en
ek dink
As jy nou hier was het
ons nou deur die nag gery
Die liggies gly verby
En die strate hou tyd
met die nagmusiek
Die maanlig val soos
reën op die pad en maak ‘n ligkol
war skaduwees speel
Ek wil ook deel wees
van hierdie spel
En saam met jou deur
die donker gly
Langpad
My lyf is ‘n langpad
waar stippellyne lê
En agter elke katoog
lê my sinne half gesê
My hart is ‘n landskap
met wolke pienk en rooi
En agter elke reënboog
lê my lewe half voltooi
My kop is ‘n klankbaan
waar note heeltyd speel
En tussen al die klanke
woon ‘n man wat hom verbeel
My oë is ‘n skerm waar
beelde heeltyd flits
En tussen al die
prentjies sien jy weerligstrale blits
My stem is ‘n
loopgraaf waar jong soldate lê
En binne elke stilte
lê die bom wat als moet sê
My tong is ‘n seedier
wat wegkruip in sy skulp
En binne elke kronkel
staan ‘n man en skree om hulp
My siel is ‘n soeker
na wat die lewe bied
En keer op keer sak my
moed as ek sien dis als verniet
My lewe is ‘n snelweg
waar karre om my jaag
En elke afdraai nooi
my om die langpad te verlaat
Lig my op
Ek soek die woorde wat
kan sê
Die groot geheim wat
binne my lê
Ek soek ‘n besem wat
kan vee
Al die gemors wat
binne my leef
Ek soek ‘n brander wat
kan breek
Oor al die seer wat
binne my steek
Ek soek vergeefs na al
die dinge
Wat my kan red wat my
kan
Oplig na ‘n beter baan
Wat my kan vang as ek
die hoogtes slaan
Wat my kan neerlê by
‘n silwer stroom
Wat my kan wakker maak
uit ‘n nare droom
Ek sien die mense om
my jaag
Na drome om hulself te
behaag
Ek sien daar is geen
salf te smeer
Aan die spiraal waarin
ons verkeer
Ek smag na weivelde
wat groen
Oor vlaktes wuif soos
weivelde doen
Ek smag na lande ver
van hier
War mense kan hande
vat wat my sal oplig …
Jy maak jou oë oop en
jy sien
Miljoene hande
onverdiend
Wat jou beskerm, jou
bewaak
En waar jy gaan is
hulle daar
Deur elke dag deur
elke jaar
Laat vaar bekommernis,
beslommernis
En sien die lig wat
jou kan oplig …
Rietfontein
By Rietfontein se
leidam as die reier staan en droom
En gepluimde
peerboomtakke bloeisels sprinkel in die stroom
Word op maanverligte
nagte nog ‘n somber tafereel
Van haat en lus en
liefde deur gestorwenes afgespeel
Wit is die water en
blond is die maan
en bly is die paar wat
gearmd daar gaan
Versilwerde bome ruis
in die laan
Wit is die water en
blond is die maan
‘n Honderd jaar gelede
het die buurt se mooiste blom
so in die helder
maanlig na die peerboomlaan gekom
maar terwyl sy en haar
minnaar in confetti bloeisels staan
het ‘n ander in die
skadu langs die dam se wal gegaan
Wit is die water en
bleek is die maan
wie is dit was daar so
geruisloos gaan
‘n huiwering trek deur
die bome in die laan
wit is die water en
bleek is die maan
O salig die verrukking
wat die suiwer liefde bring
en vrolik het die
harte van die paartjie daar gesing
by Rietfontein se
leidam in die wit lig van die maan
maar oorkant langs die
peerboom het ‘n skaduwee gegaan
Wit is die water maar
bleker die maan
wie is dit wat daar so
doelbewus gaan?
Verdonkerde bome bewe
in die laan
Wit is die water maar
bleker die maan
Kortstondig soos die
dou wat smôrens skitter op die roos
Kortstondig was die
enkel uur van samesyn se troos
Op bloedbevlekte
bloeisels lê die paartjie in die laan
Terwyl ‘n swart
gestalte onder peerboomtakke staan
Bloed in die water en
bloed in die laan
Wie is dit wat daar so
roerloos bly staan
Vormlose skaduwees
kruip oor die maan
Bloed in die water en
bloed in die laan
By Rietfontein se
leidam as die reier staan en droom
En gepluimde
peerboomtakke bloeisels sprinkel in die stroom
Word op maanverligte
nagte nog ‘n somber tafereel
Van haat en lus en
liefde deur gestorwenes afgespeel
Bloed in die water en
bloed in die laan
Wie is dit wat daar so
skuldbewus gaan
Vormlose skaduwees
kruip oor die maan
Sandkasteel
Soveel mense op my
pad, soveel vriende wat my hande vat
As dit donker raak om
my, as my voet op rotse gly
Aan my ouers, my
steunpilaar, hoe kan woorde wat ek voel vertaal?
Julle’s sterk, en
nogtans sag - julle liefde gee my krag
Ek sien ‘n sandkasteel
wat in die water staan
Die see wat teen sy
mure slaan
En as ek wegsink in
die sand
Voel ek jou
uitgestrekte hand
Ek sien ‘n lighuis wat
helder skyn
Ek sien die lig wat
indie mis verdwyn
Is dit jou stem wat my
kom haal
Aan my sus, my
sielsgenoot
Jou begrip vra net ‘n
halwe woord
Soveel ure saamgeleef
Soveel jare saamgeweef
Aan my lief, my hart
se punt
Jy’s die een aan wie
ek my verbind
Ek was eenkant sonder
naam
Toe kom jy en vat my
saam
Southern
lights
One hello
can turn a life around
Stars
collide and no-one makes a sound
I hold my
breath and hope that it will last
Not fade
away like so often in the past
Sentences
build bridges into space
Feelings
march across and take their place
Fingers
writing letters on my skin
Love is
here: let love begin
I call
your name over the ocean
I feel
your touch, our bodies in motion
I crave
your kiss, your head on my shoulder
It’s you
I’ll love when our bodies grow older
I used to
be afraid and incomplete
The
slightest breeze would sweep me off my feet
I used to
think that love could never be
But now I
know we hold the key
I call
your name over the ocean
I feel
your touch, our bodies in motion
I crave
your kiss, your head on my shoulder
It’s you
I’ll love when our bodies grow older
I breathe
you in like southern lights bending
I taste
your skin in autumn descending
I hear
your voice – a river above me
You heal
my heart when you tell me you love me
Tempel
Jy
is ‘n tempel, ‘n kamer vol lig
Jy
nooi my oor die drumpel om te sing en te dig
Jy
is ‘n tempel, ‘n oomblik van rus
Jy
hardloop deur my lewe en jy maak my bewus
Jy
is ‘n tempel, ek word weer ‘n kind
Ek
eet weer van die manna wat my hart aan jou bind
Jy
is ‘n tempel, ‘n toring van vuur
Jou
hande is soos blare wat soos herfs oor my skuur
Jy
is ‘n tempel, ‘n reënboog van kleur
‘n
Kamer waar die passies en emosies in beur
Jy is ‘n tempel, ‘n
bergreeks van tyd
Hier’s
digbegroeide woude en die vlaktes is wyd
Jy
is my tempel, kom lê teen my aan
Hier’s
varsgeplukte blomme, hier’s ‘n son en ‘n maan
Jy
is ‘n tempel, die einde van my reis
Die
plek waar al my paaie lei, jy is my paradys
Verby
Jy sê dis verby, vat jou goed, kry jou ry, en ek staan voor jou deur met
my hart in my keel, en ek wonder wat word d’une vie qui est morte*, en jy weet
iets is dood, maar jy kry nie die woord om te sê
Hoe dit klink as die liefde sink, en jy sien hoe dit lyk as die hartstog
wyk, en jy weet hoe dit gaan as die sout verslaan, en jy voel desperaat, maar
dis klaar te laat en
Jy sê dis verby, vat jou goed, kry jou ry, en ek staan voor jou deur met
my hart in my keel, en ek wonder wat word d’une vie qui est morte, en jy weet
iets is dood, maar jy kry nie die woord om te sê
Hoe dit voel as die lug oor jou spoel, en die son soos ‘n bal tussen
wolke val, as die reën soos ‘n kind in die straat rinkink, en die stilte in jou
soos ‘n blom ontvou
En jy weet hoe dit klink as die liefde sink, en jy sien hoe dit lyk as
die hartstog wyk, en jy weet hoe dit gaan as die sout verslaan, en jy voel
desperaat, maar dis klaar te laat en
Jy sê dis verby, vat jou goed, kry jou ry, en ek staan voor jou deur met
my hart in my keel, en ek wonder wat word d’une vie qui est morte, en jy weet
iets is dood, maar jy kry nie die woord om te sê dis verby.
* d’une vie qui est morte = van ‘n lewe wat dood is